Die Greyton Genadendal “Classics for All”-fees word vanjaar vanaf 1- 3 Junie 2012 weer op dié buurdorpeaangebied.
Van die talle kunstenaars wat optree is die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, soprane Minette du Toit-Pearce, Zanne Stapelberg en Vanessa Tait-Jones, die bariton, Federico Freschi, ’n blaasensemble, Carin Bam, Brandon Philips, Caroline Prozesky en Daniël Prozesky, en top pianiste Philippus Hugo, Willem van Schalkwyk, Stefan Lombard en Jose Dias.
Vir die jongspan is daar ’n konsert deur Cool Classics Kidz en die Masidlale-musiekprojek van die Kaapse Filharmoniese Orkes. Vir verdere inspirasie tree die Kaapse Simfonie Jeugorkes ook op.
Vyf jong sangers wat die kollig sal steel is die Dolci Tenori, voorheen die Hermanus Tenore, wat met die welbekende Charlene Truter-Lackay optree.
By die galakonsert, geborg deur die ATKV, sal twee wenners van ATKV-toekennings, Du Toit-Pearce en Tait-Jones saam met die Morawiese Kerkkore van Greyton en Genadendal, die Genadendal-blaasorkes en die pianis, Philippus Hugo, ‘n vertoning lewer. Die konsert vind plaas in die Morawiese Kerk te Genadendal.
Wins van dié galakonsert sal aangewend word vir ‘n musiekbeurs wat aan die talentvolle Nelson Mziwamadoda (Elton) Nkanunu, ‘n lid van die Dolci Tenori, toegeken is.
Besoek www.greytontourism.com of skakel Coenie Visser by 082 576 2160 vir verdere inligting.
Kaartjies te koop by Computicket.




Heels on Wheels Greyton
Greyton Book Club Festival.
Moord en verkragting onder die soeklig by die Absa KKNK















