Alles in Afrikaans

Erfenismark-pretdag en kostuumkompetisie

Taalmuseum Paarl‘n Erfenismark vind op Saterdag 10 November by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl plaas. Dié dag is geskik vir die hele gesin met opwindende uitstallings, vermaak en kinderaktiwiteite wat aangebied word.

 Besoekers word uitgenooi  om aan ‘n kostuumkompetisie deel te neem deur tradisionele klere of kostuums, wat hul eie of enige ander erfenis uitbeeld, aan te trek. Verskeie pryse sal deur die loop van die dag deur ’n paneel toegeken word aan diegene wat die beste uitrustings vertoon.

 ’n Wye reeks erfenisprodukte sal te koop wees. Dit sluit in stalletjies met allerhande kos en lekkernye, plaaslike wyn, juweliersware, handgemaakte items, kunswerke en boeke – te veel om op te noem. Interessante uitstallings sal aangebied waaronder Kobus Galloway se gewilde Idees Vol Vrees-strokiesprente.

 Vermaak sluit in optredes deur musikante en woordkunstenaars op die Tuinteater verhoog. Martelize Brink van die radiostasie RSG bied van 10:00 tot 11:00 ‘n regstreekse uitsending vanaf die mark aan.

 Kinders kan rondhardloop en speel in die twee speelparkies, of aan verskeie kinderaktiwiteite, waaronder ponieritte, deelneem.

 Die mark is oop vanaf 09:00 tot 15:00. Die Taalmonument sal, soos elke dag in die somer, tot om 20:00 oop wees vir diegene wat tot later wil kuier. Volksmond Koffiewinkel sal van 08:00 tot 17:00 oop wees vir ontbyt, koffie en tee en ligte middagetes. Hulle verskaf ook bier, wyn en piekniekmandjies.

Toegang is R15 per persoon vir volwassenes, R10 vir studente, R5 vir kinders en gratis vir dié onder ses. Dit sluit in veilige parkering, toegang tot die mark en koffiewinkel en ’n  Woordpret-toer van die Taalmonument. Die monument is maklik bereikbaar vanaf die N1 (volg die bruin aanwysingsborde vanuit Hoofstraat).

 “Kom geniet die fantastiese uitsig oor die vallei en ‘n spesiale atmosfeer aan die voet van die Taalmonument terwyl ons ons diverse gesamentlike erfenisse vier,” nooi Jack Louw, Direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument.

 Navrae aangaande die mark en besprekings van stalletjies kan gerig word aan Amira Clayton by tel. 021 863 4809/0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.

Speak Your Mind

*