Alles in Afrikaans

Die Burger Proefees

 

ProeFees Die Burger Tygervalley

Die Burger Proefees sal vanjaar op Vrydag 27 en Saterdag 28 Julie by die Tygervalleisentrum in Bellville aangebied word.

Die Proefees beleef vanjaar ‘n opwindende herlewing met topgehalte wyn-uitstallers, ‘n ruim nuwe venue in die sentrum waar die funksie aangebied word, en ekstra sorg met die beplanning sodat elke aspek van die proefees vir ‘n aangename ervaring sal sorg.

Die wynfees word gehou in die sentrum se nuut opgeknapte arena – ‘n groot oop fokuspunt net onder die kos-wandelhal en restaurante. Vanjaar kan besoekers uitsien na ‘n nuwe element by die fees met lewende musiek, kosstalletjies waaronder C-Side Oysters en Redies Chinese Restaurant & Sushi Bar, en sithoekies waar mens rustig kan sit en ontspan.

Wyn kan deur Cybercellar aangekoop word waarna dit na afloop van die fees deur Berco Express afgelewer sal word. Wetsgehoorsame besoekers wat ‘n effe te diep in die bottel gekyk het, sal van die Sober Chauffeur-diens gebruik kan maak. Besoekers kan voortydig by Sober Chauffeur óf by hul stalletjie by die fees registreer sodat hulle met hul eie motor huis toe geneem kan word. Om vooraf te registreer, kontak Celeste Grobler by 078 002 6281 of stuur ‘n e-pos na celeste@soberchauffeur.co.za. Die tariewe vir eenmalige diens is op die sonekaart op die webblad www.soberchauffeur.co.za/memberships.html.

Wyn op Tygervalley

Sowat 40 wyn-uitstallers sal hul lieflike wyn tydens die fees uitstal. Die hele Durbanville-wynvallei sal die middelpunt vorm met Altydgedacht,  Bloemendal, D’Aria, De Grendel, Diemersdal, Durbanville Hills, Hillcrest, Klein Roosboom, Meerendal en Nitida wat op die middelste eiland saam gegroepeer sal wees. Hulle sal elkeen twee wyne beskikbaar hê: hul 2012-oesjaar sauvignon blanc sowel as een rooiwyn. Daarmee saam sal hulle hul unieke streek-gereg – lamsosaties met pampoen, stampkoring, komynsous en piekels – voorsit. Hierdie lieflike dis, wat spesiaal deur sjef Warren Swaffield van Cassia Restaurant by Nitida voorberei sal word, bring hulde aan die dae toe Durbanville nog boere se markdorp was en as Pampoenkraal bekend gestaan het.

Van die ander wyn-uitstallers wat tot dusver bevestig het dat hulle daar sal wees, is Beyerskloof, Boekenhoutskloof se Porcupine Ridge en The Wolftrap, Bon Courage, Creation, De Krans, Delaire Graff, Elgin Vintners, Helderberg Wijnmakerij, Hermanuspietersfontein, Hidden Valley, Honey Badger, Imbuko, Jordan, Koelenhof, Krone, Leeuwenkuil, Morgenster, Muratie, Peter Brum, Pomüla, Raka, Rietvallei, Robertson Winery, Steenberg, Sumaridge, Thelema, Wandsbeck, Winters Drift en Zevenwacht.

Besoekers kan Vrydag vanaf 15:00 tot 20:00 saamkuier, en op Saterdag vanaf 12:00 tot 19:00. Kaartjies kos R75 per persoon vir die wynproe (prys sluit ‘n wynglas in) en sal by Computicket en by die deure te koop wees. ‘n Gedeelte van die inkomste sal aan Die Burger Kersfonds geskenk word.

Besoek http://www.facebook.com/DieBurgerProefees of www.tygervalley.co.za vir meer inligting.

Speak Your Mind

*